Pretoria – Die MOS Inisiatief en Doxa Deo Opvoedkunde het hul volgehoue verbintenis bevestig om ’n nuwe Afrikaanse privaat skool, Hartland Akademie, op die Hartland Landgoed in Hartenbos te vestig – ondanks volgehoue administratiewe uitdagings en buitensporige munisipale heffings.
Vertragings en buitensporige kostes
Die projek, wat oorspronklik vir 2025 beplan was, moes weens vertragings in die munisipale hersonering na 2026 geskuif word. “Ons verstaan dat ’n skool aan die begin van ’n kalenderjaar moet open, wat beteken die bouwerk moes teen November van die vorige jaar afgehandel wees,” sê die projekvennote.
Ná afloop van die hersonering het die projekspan aansoek gedoen om bouwerk te begin – maar toe tref ’n nuwe struikelblok: R7.7 miljoen se grootmaatdiensteheffings vir die eerste fase, waarvan R4,3 miljoen vir pad- en vervoerdienste bestem is. Indien die volle kapasiteit van sowat 1 000 leerders bereik word, kan die bydrae tot ongeveer R22 miljoen beloop.
“Vir 350 leerders beteken dit R22 000 per kind – vergelyk dit met R1 400 per leerder in Tshwane en geen heffings in Mpumalanga. Dis eenvoudig buitensporig,” sê die groep. “Hierdie skool is ’n sosiale impak gemeenskapsprojek. Sulke kostes maak dit finansieel onvolhoubaar.”
Regsverteenwoordigers vra tegemoetkoming met grootmaatdiensteheffings
Die projek se prokureurs het ’n formele motivering aan die Munisipaliteit van Mosselbaai voorgelê waarin gevra word dat die heffings aangepas word.
Die motivering stel dat die toepassing van hierdie bydraes “nie rasioneel, billik of geregverdig” is nie, en dat dit die munisipaliteit se eie ontwikkelingsdoelwitte ondermyn.
“Basiese onderwys is ’n grondwetlike plig van die staat. Wanneer private rolspelers inspring om die tekort aan skole aan te vul, behoort hulle nie gestraf te word met finansiële heffings nie – hulle help juis om die staat se mandaat uit te voer,” lui die verklaring.
Die dokument waarsku verder teen die “dubbele telling” van verkeersimpak:
“Die meeste reise na ’n plaaslike skool is reeds deel van ouers se daaglikse roetes. Om die skool vir hierdie verkeer te hef, beteken dat dieselfde beweging twee keer belas word.”
’n Belegging in mense, nie net mure
Die projekvennote sê hulle is diep teleurgesteld oor hoe die proses tot dusver hanteer is.
“Hierdie projek is ’n belegging in mense – in kinders, gesinne en die gemeenskap. Die wyse waarop dit vertraag en belas is, dien nie die belang van Mosselbaai se inwoners nie.”
Ten spyte van die struikelblokke bly die span vasbeslote om die visie te verwesenlik: ’n Christus-gesentreerde, Afrikaanse skool van uitnemendheid wat volhoubaar in die gemeenskap ingebed is.
“Ons bly oop vir gesprek en samewerking. Ons glo gesonde verstand en gemeenskapsbelang sal uiteindelik die pad vorentoe bepaal,” sê die groep.
Dit is met groot teleurstelling dat die projekspan weereens moet aankondig dat die skool nie in 2026 sal open nie, maar onbepaald uitgestel word – totdat die struikelblokke suksesvol aangespreek kan word.
Belangstellendes kan die vordering volg by www.hartlandakademie.co.za.
EINDE
Woordtelling: 473
Uitgereik deur:
Roedolf van der Westhuizen
Uitvoerende hoof
roedolf@diemos.co.za
Meer oor Die MOS Inisiatief
Die MOS Inisiatief is ’n privaat maatskappy wat deur die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) gestig is met die doel om ’n Afrikaanse skole netwerk daar te stel om uitmuntende onderrig in Afrikaans te verseker en uit te bou.
Die doelwit van die organisasie is om in Afrikaans ‘n innoverende, inklusiewe, toeganklike, volhoubare en toekomsgerigte leerstelsel te bou, waar kinders so verlief raak op leer dat hulle lewenslange leerders sal wees en verby die vierde nywerheidsrewolusie sal floreer.
Kontakbesonderhede:
Roedolf van der Westhuizen
Uitvoerende Hoof
roedolf@diemos.co.za
+27 12 880-293
Meer oor Doxa Deo Opvoedkunde
Die visie van Doxa Deo Opvoedkunde is om die volgende generasie van leiers te help ontwikkel en voor te berei vir die toekoms. Ons doen dit by wyse van kwaliteit Christus Gesentreerde Onderrig vir leerders van voorskools tot hoërskool. Elke leerder het nodig om hulle volle potensiaal in Christus te ontdek en doelgerig in ‘n veilige, liefdevolle omgewing te groei na volwassenheid. Ons begeerte is dat elke leerder eendag ons skole sal verlaat om ‘n betekenisvolle impak in ons samelewing te maak.
Kontakbesonderhede:
Muller van Loggerenberg
Voorsitter van die Doxa Deo Opvoedkundige Trust
012 991 3883/082 557 2457
Muller.vanloggerenberg@doxadeo.org




