Brits, Noordwes – Kiewietnes Kleuter- en Leersentrum kondig met trots aan dat die skool eersdaags amptelik deel van Die MOS Inisiatief sal vorm, ’n dinamiese en groeiende onafhanklike skolegroep wat fokus op kwaliteit moedertaalonderrig.
Sedert sy ontstaan was Geloof, Kennis, Liefde en Pret die “eiers in ons nes” en die boustene van Kiewietnes se fondasie. Met hierdie waardes as kompas het die skool oor jare floreer en ’n gevestigde naam in Brits en omgewing geword. Met die oog op langtermyn-volhoubaarheid en die toekoms van die skoolgemeenskap, is die besluit geneem om by Die MOS Inisiatief in te skakel.
Volgens Joanie Scott, huidige eienares en skoolhoof van Kiewietnes Kleuter- en Leersentrum, is hierdie stap ’n natuurlike en strategiese voortbou op die skool se nalatenskap:
“Na baie jare se liefde, harde werk en toewyding is ek dankbaar en gerus. Dit is ’n eer dat ons een van min skole is wat deur Die MOS Inisiatief gekies is – ’n organisasie wat ons waardes, ons passie vir kinders en ons toewyding aan kwaliteit Afrikaanse moedertaalonderrig deel. Hierdie is nie ’n einde nie – dit is ’n vars nuwe begin.”
Scott het verder bevestig dat geen personeelskommeling sal plaasvind nie en dat alle personeel onder die nuwe bestuur sal aanbly. “Ons span sien uit daarna om hierdie nuwe fase saam met MOS aan te pak. Ekself bly aan totdat ’n geskikte nuwe hoof en ’n Graad R-onderwyseres, in samewerking met MOS, aangestel is.”
Oor Die MOS Inisiatief
Die MOS Inisiatief (Moedertaal in Onafhanklike Skole) is ’n innoverende, inklusiewe, toeganklike en volhoubare skolegroep wat daarop gemik is om kwaliteit moedertaalonderrig in Suid-Afrika te vestig en uit te bou. Die organisasie fokus daarop om in kinders ’n liefde vir leer te kweek en hulle voor te berei vir ’n uitdagende en veranderende toekoms.
Deur strategiese vennootskappe met gevestigde skole te vorm, bou die MOS aan ’n netwerk van skole wat nie net akademiese uitnemendheid nastreef nie, maar ook sterk waardes, gemeenskapsbetrokkenheid en opvoedkundige innovasie bevorder.
Roedolf van der Westhuizen, uitvoerende hoof van Die MOS Inisiatief, sê Kiewietnes is ’n natuurlike passing binne die groep se visie:
“Die MOS Inisiatief is trots om deel te word van die Kiewietnes-kultuur en -geskiedenis en wil graag daarop voortbou. Kiewietnes beliggaam die waardes van geloof, kwaliteit opvoeding en liefde vir kinders – presies dit waarvoor ons staan. Ons sien uit daarna om saam met die Kiewietnesspan hierdie suksesverhaal verder uit te bou.”
’n Strategiese toevoeging in Brits
Die insluiting van Kiewietnes versterk die MOS se teenwoordigheid in Noordwes en vestig ’n gesonde opvoedkundige pyplyn in Brits – van vroeëkinderontwikkeling tot verdere skoolfases binne die groep. Dit dra by tot die behoud en uitbou van kwaliteit Afrikaanse moedertaalonderrig in die streek en bied aan ouers groter sekerheid oor volhoubare, waardegedrewe opvoeding vir hul kinders.
Met hierdie stap word Kiewietnes deel van ’n groter netwerk, terwyl sy unieke identiteit, kultuur en nalatenskap behoue bly.
“Dankie aan elke ouer wat ons nog altyd vertrou het, elke kind wat ons gange met lag vul en elke personeellid wat saam bou aan ons droom,” sê Scott. “Dankie aan MOS dat Kiewietnes nou ook op julle landskaart verskyn.”
Hierdie oorgang is nie ’n afsluiting nie, maar die begin van ’n nuwe hoofstuk – een waarin Kiewietnes se nalatenskap voortleef as trotse deel van Die MOS Skole Groep.
Laai die persverklaring af



