Die MOS Inisiatief verwelkom Enso Akademie – ‘n nuwe tuiste vir innoverende Afrikaanse moedertaalonderrig

enso akademie mediaverklaring

Die MOS Inisiatief kondig met groot trots en afwagting die nuutste toevoeging tot Die MOS Skole Groep aan: Enso Akademie, geleë in Wonderboom, Pretoria.

Die skool open sy deure in Januarie 2026 en beloof om ‘n baanbrekersinstelling vir Afrikaans moedertaalsprekers te wees.

Wat beteken “Enso”?

Enso (円相) is die Japannese woord vir “sirkel” – veral soos dit in Zen-kuns gebruik word. Dit word in een vry, vloeiende handbeweging geteken, dikwels oop of onvolmaak. Hierdie eenvoudige maar kragtige simbool staan vir:

  • Eenvoud
  • Aanvaarding van onvolmaaktheid
  • Vloei en balans
  • Leë ruimte vir groei
  • Individuele uitdrukking

By Enso Akademie weerspieël hierdie betekenis ons kernfilosofie: elke leerder se reis is uniek, vol potensiaal, en ruimte vir kreatiewe groei is deel van die leerervaring.

Enso Akademie bied ‘n innoverende, toekomsgerigte leerstelsel wat leerders uitstekend voorberei vir die uitdagings en geleenthede van die vierde nywerheidsrewolusie. Dit sluit vaardighede in soos:

  • Kritiese denke en probleemoplossing
  • Kreatiwiteit en innovering
  • Digitale geletterdheid en tegnologiese aanpasbaarheid
  • Samewerking en spanwerk
  • Selfbestuur en aanpasbaarheid
  • Emosionele intelligensie
  • Data-analise en inligtingsgeletterdheid

Akademiese uitnemendheid

Leerders by Enso Akademie sal die IEB-eksamens aflê, wat internasionaal erken word, terwyl hulle terselfdertyd die MOS-leerstelsel volg om praktiese, toekomsgerigte vaardighede te bemeester. Leerders met ‘n liefde vir musiek sal hier ‘n tuiste vind en hul passie met musiek as vak kan uitleef.

Sport en aktiwiteite

Benewens akademiese uitnemendheid, sal leerders die geleentheid hê om aan individuele sportsoorte soos tennis, swem en landloop deel te neem, wat hul fisiese welstand en selfdissipline verder sal bevorder.

Ligging en voorbereiding

Die nuwe kampus is op dieselfde terrein as die MOS Skole Groep se gewilde Knikkie Knakkie Kleuterskool in Wonderboom. Voorbereidings aan die terrein, geboue en personeelaanstellings is reeds in volle swang om die skool in 2026 gereed te hê.

Meer besonderhede oor fooie, inskrywings en kurrikulum sal binnekort bekend gemaak word. Hou Die MOS Inisiatief se sosialemediaplatforms dop vir opdaterings!

Navrae:

De Wet Coetsee
Operasionele hoof
info@diemos.co.za