MOS brei Afrikaanse aanlyn onderrig uit na grondslagfase | Maroela Media onderhoud

mos wereldwyd aanlyn tuisskool 3

‘n Nuwe era het vir jong Afrikaanse leerders aangebreek, want die gewilde aanlyn platform MOS-Wêreldwyd, bekend vir sy hoë Afrikaanse akademiese standaarde in die tuisskoolmark, brei sy aanbod na die grondslagfase uit.

Vanaf 2026 sal gr. R- tot 3-leerders ook deel kan word van hierdie groeiende leeromgewing wat daarop gemik is om Afrikaanse kinders in die digitale wêreld te laat uitblink.

Volgens Die MOS Inisiatief is hierdie uitbreiding ʼn natuurlike volgende stap vir ouers wat hul kinders se onderrig ernstig opneem. Sedert die organisasie se ontstaan in 2021, het hulle ʼn sterk reputasie opgebou vir gehalte-onderwys vir gr. 7 tot 9, wat later deur sillabusse vir gr. 4 tot 12 opgevolg is, met eksamens van die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) as bewys van hul akademiese gehalte.

“Nou word daardie onderrigmodel uitgebrei na die vormingsjare waarin ʼn kind se liefde vir leer begin wortelskiet.

“In die wêreld waarin ons kinders grootword, speel kunsmatige intelligensie en tegnologie ʼn al hoe groter rol. Daarom is dit noodsaaklik om van vroeg af die regte grondslag te lê in moedertaalonderrig, geletterdheid, kritiese denke en basiese rekenaarvaardighede,” het Roedolf van der Westhuizen, uitvoerende hoof van Die MOS Inisiatief, aan Maroela Media gesê.

MOS se nuwe grondslagfasekurrikulum sal ook kodering en robotika insluit, sodat jong leerders op ʼn speelse manier aan sleutelvaardighede vir die toekoms blootgestel word. Die doel is om aanpasbare, denkende jong volwassenes te kweek wat ʼn veranderende wêreld gemaklik kan navigeer.

“Die platform is ideaal vir gesinne wat gehalte-onderrig in Afrikaans verkies, vir ouers wat meer betrokke by hul kinders se leerproses wil wees, of vir dié wat in kleiner dorpe en landelike gebiede woon waar onderwysopsies beperk is,” verduidelik Roedolf.

Inskrywings vir gr. R tot 3 het reeds geopen, maar plekke vir 2026 is beperk. Ouers wat hul kind se plek wil bespreek, kan dit doen by www.moswereldwyd.co.za.

Roedolf van der Westhuizen, uitvoerende hoof van Die MOS Inisiatief, het met Esté Meyer Jansen van Maroela Media gesels oor hoe Afrikaanse onderwys in ʼn digitale wêreld nuwe vlerke kry. Hy vertel waarom hulle besluit het om MOS-Wêreldwyd se aanlyn kurrikulum na die grondslagfase uit te brei. Luister na die volledige onderhoud boaan hierdie berig.

Bron: Maroela Media